Die grootste mededingende rolstoelwedren in Suid-Afrika, die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC), vind aanstaande jaar weer op George in die Wes-Kaap plaas.

Die wedren word op Saterdag 22 Februarie in die strate van George beslis. Die registrasie van atlete vind 'n dag tevore (op 21 Februarie) plaas.

Alewijn Dippenaar, hooforganiseerder, sê inskrywings open in Oktober.

Daar is Maandag tydens 'n bekendstellingsgeleentheid dankie gesê aan borge en ander mense betrokke by die geleentheid. Erkenningsertifikate is ook oorhandig aan diegene wat die sukses van vanjaar se wedren help verseker het.

Dippenaar het veral die byeenkoms se borge bedank sonder wie die geleentheid nie kan plaasvind nie.

Dit is veral besonders dat niemand vir hul werk vergoed word nie; elke persoon betrokke doen dit gratis as 'n liefdesgeleentheid. 

Aanstaande jaar se wedren sal die 21ste wees.

George het oor die jare al sinoniem met die geleentheid geword en honderde gestremde atlete van oor Suid-Afrika en selfs uit die buiteland neem daaraan deel. Die wedren word in verskillende afdelings beslis. Daar is ook 'n pretafdeling waarby die publiek betrek word.

Wyle Esther Watson was die dryfkrag agter die wedren.

Ernst van Dyk, een van Suid-Afrika se bekendste Paralimpiese atlete, het 'n sterk verbintenis met die wedren en terwyl hy nog mededingend aan atletiek deelgeneem het, het hy by meer as een geleentheid as wenner uit die stryd getree.

Dippenaar het Maandag gesê op 'n besoek aan Japan was dinge soos respek, harmonie en samewerking vir hom opvallend. En dit is presies wat die OCC voorstaan.

'n Afvaardiging van Botswana was onder meer by vanjaar se byeenkoms om te kom vasstel hoe dinge op George gedoen word. As 'n uitvloeisel van die besoek sal die eerste rolstoelwedren van sy soort nou ook in Augustus in Gaborone gehou word.

Die George-munisipaliteit was sedert 2002 uit die staanspoor by die wedren betrokke en die burgemeester, Jackie von Brandis, het vanjaar 'n sertifikaat namens die munisipaliteit ontvang Onder die instellings wat ook erkenningsertifikate ontvang het, is die Eden-sportraad en die Rotariërs.


Dippenaar het aan Maroela Media gesê daar was vanjaar 632 deelnemers. Daar word gehoop om aanstaande jaar 'n duisend deelnemers te lok, soos voor die covid-19-pandemie gewoonlik die geval was.

Na verwagting sal daar weer internasionale deelnemers uit lande soos Ghana, Namibië en Botswana wees.