George, Tuinroete (Maart 2025) – Suid-Afrika se enigste wedren vir gestremde atlete is vir die
21ste keer op Saterdag 15 Maart in George aangebied. Die OCC se mondigwording is moontlik
gemaak deur groothartige borge, tonne vrywilligers, en ’n gestremde gemeenskap oorgehaal om
te rol!
Die dag het afgeskop met ‘n 42.2km-marathon vir top atlete – waaronder veelvuldige
Paralimpiese medaljewenners van SA en Ghana – met resiesstoele en handfietse wat ook die
vlae van Namibië en Botswana vertoon het. Stuart McCreadie was die eerste jaer wat hierdie
langste roete van die dag voltooi het, met ‘n tyd van 1:10.44.
Skuins na sewe op die sonnige herfsmôre het jaers van regoor Suider-Afrika gereed gemaak vir
die halfmarathon, voordat ’n groot groep deelnemers op die 10km-roete vertrek het.
Ondersteun deur plaaslike verkeers- en nooddienspersoneel, het die dorp George ook ’n
pragtige agtergrond vir al die roetes verskaf, met motoriste en voetgangers wat ryers langs die
pad aangemoedig het.
Thuso Rasetapa van Botswana het oor die wenstreep geblits as kategorie-wenner in die 21.1km-
wedren, en ander groot name wat medaljes ingepalm het was Paralimpiese atlete Justine Asher,
Pieter du Preez en Raphael Botsyo Nkegbe, terwyl jong ster Zach Legwar, 17, en tuis-held Shaun
Butler bygedra het tot die dag se renvermaak. Shaun is ook voorsitter van die Disabled Road
Race Foundation, wat die geleentheid aangebied het.
Maar die OCC-gees is dalk die beste weerspieël deur ‘n skare van honderde, jonk en oud, wat
aan die 5km-pretwedren deelgeneem het. Dit is dié jaar bekendgestel as oop kategorie ter
viering van die wedren se 21ste herdenking en het mense met enige vorm van gestremdheid
uitgenooi om deel te neem.
Onder hierdie groep was geliefde RSG-aanbieder Martelize Brink – ‘n OCC-aanhanger en vurige
voorstander daarvan dat rolstoelgebruikers hul stem moet dik maak en die dag aangryp. In haar
rede tydens die prysuitdeling by Carpe Diem Skool, het Martelize almal geprys vir hul
“aanwesigheid”. Sy het haar gehoor herinner om vir hul regte tot toegang en aanvaarding te
veg, maar ook om “pret te hê”.
Dis hierdie ligtheid wat opval wanneer daar met sommige van die topatlete gesels word: André
Koen, wat deelgeneem het terwyl hy nog op medikasie was vir griep, het grappenderwys vertel
van bure wat tot 3vm luidrugtig feesgevier het Vrydagaand; die Du Preez-gesin van
Johannesburg – Pieter, sy vrou en hul jong seun – was reisend vir meer as 12 uur nadat swak sig
in George hul vlug omgekeer het. Hulle het toe ’n motor gehuur en padlangs die vyf ure van
Gqeberha af aangedurf.
Geen uitdaging blyk te veel om die gees van die 600+ OCC-deelnemers en hul
ondersteuningspanne te breek nie – ’n punt wat organiseerder Alewijn Dippenaar tydens die

afsluitingseremonie benadruk het. Sy boodskap is ook met ’n veel groter gehoor gedeel toe ’n
drie-minute insetsel van die geleentheid op landwye TV uitgesaai is Saterdagaand.